Rowers steek geldwa aan brand
2011-09-28 09:07
Welkom – Onverskrokke rowers, gewapen met AK47-aanvalsgewere, het hier helder oordag by ’n besige betaalpunt met ’n groot bedrag geld, wat nou vir hulle van geen waarde is nie, weggekom.
Uit frustrasie omdat hulle nie by die kluis in die voertuig kon uitkom nie, het hulle die stuurkajuit van dié voertuig waarmee die geld vervoer word, met petrol aan die brand gesteek.
Die bestuurder van die voertuig van die veiligheidsmaatskappy G4S was gelukkig om betyds van die vlamme te kon ontsnap en is met ligte brandwonde in die Mediclinic Welkom behandel.
Sy naam word om veiligheidsredes nie bekend gemaak nie.
Hy was agter die voertuig se stuurwiel toe die rowers hul wapens Dinsdagoggend teen die ruit gedruk en geëis het dat hy die deur oopmaak. Toe hy weier, is petrol oor die kajuit gegooi en dit aan die brand gesteek.
Sy kollega, wat intussen te voet met die houer vol geld die paar meter na die Teba-betaalpunt agter die hostelle van die Masimong-myn buite Welkom op pad was, is deur die rowers oorval en van die geldhouer beroof.
Wendy Hardy, woordvoerder van G4S, sê die buise vol ink in die geldhouer is met ’n outomatiese ontploffing geaktiveer die oomblik toe die sekuriteitsman se duim van die kontakpunt weggeneem is. Al die geld in die houer is onmiddellik met onverwyderbare ink gekleur en is dus van geen waarde vir die rowers nie.
Die rowers het met hul voertuie op die mynpaaie agter die woonbuurte Bronville en Thabong weggejaag en polisie het tot laat gister nog na hulle gesoek.
Brandweerpersoneel, wat die vlamme in die kajuit help blus het, moes met reddingstoerusting help om die agterkant van die voertuig waarin die kluis is, oop te breek.
Hoewel daar rook in die agterkant van die voertuig was, was die kluis en die geld daarin ongeskonde.
Ao. Malebo Khosana, polisiewoordvoerder, sê daar was tusen vier en ses gewapende rowers. Hy sê die sekuriteitsman het by die passasierskant van die voertuig uitgespring nadat dit deur die rowers aan die brand gesteek is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad