Rowers sny byna student se arm af
2009-10-21 07:30
Johannesburg - "Voertsek! Voertsek!” het twee rowers ’n jong student toegesnou terwyl hulle byna haar arm met ’n mes afgesny het om haar van haar selfoon te beroof.
Ciandi Vosloo, ’n vyfdejaar-student in die gasvryheid- en spysenierskursus aan die Centurion-akademie (CA), se senuwees, twee slagare, weefsel én al die spiere in haar regterarm is tydens die aanval eergistermiddag stukkend gesny.
Sy het haar selfoon in haar regterhand gehou toe sy oorval is.
Vosloo, wat in die Unitas-hospitaal behandel word, het gister gesê die knipmes waarmee hulle haar gesny het was vlymskerp en het by haar arm se been gestop.
Sy is om 13:30 in Suidstraat in Centurion aangeval. “Ek het pas my laaste klas gehad en was op pad huis toe, toe twee onbekende mans my oorval het.
“Terwyl hulle my gegryp en my arm gesny het, het ek gegil. Hulle het net die heeltyd geskreeu: ‘Voertsek! Voertsek!’ en toe hardloop hulle met my selfoon weg.
“Dit was verskriklik. Ek haat hulle,” het sy gister saggies gesê terwyl sy hartverskeurend gehuil het.
Sy het gesê twee klasmaats het haar te hulp gesnel. “Hulle het my arm vasgehou. Ek het gedink ek gaan my dood bloei en my arm verloor.”
Johan Vosloo, haar pa, het gesê ene Kallie de Lange en sy vrou, wie se naam hy nie gehad het nie, het ook sy dogter gehelp.
“De Lange het sy sakdoek in die wond gedruk in ’n poging om die bloeding te stop voordat hulle met haar hospitaal toe gejaag het.”
Hy het gesê dokters het sewe uur lank aan sy dogter se arm geopereer om dit te red. “Hulle het ’n aar uit haar linkerbeen gehaal en dit in haar arm gesit.”
“Ek wil weet wat het ek ooit aan hulle gedoen. Ek het net onskuldig in die pad gestap.
“As gevolg van hulle sal ek nie my finale eksamen wat oor ’n week begin kan skryf nie,” het sy gesê.
Vosloo het gesê hulle sal eers oor sowat 18 maande weet of sy dogter ten volle sal herstel. “Ek is so kwaad. As ek daai mense kry, maak ek hulle stadig vrek,” het hy ontsteld gesê.
Hy het gesê hy is verder by die Lyttelton-polisiekantoor ontstel toe hy die saak wou gaan aanmeld en daar van bakboord na stuurboord gestuur is. “Niemand wou my help nie.”
Hy het gesê sodra sy dogter uit die hospitaal ontslaan word, gaan hy haar na hul huis in Roodepoort terugneem om aan te sterk.
“Ons wil dankie sê aan almal wat Ciandi gehelp het en vir al die ondersteuning wat ons gekry het,” het hy gesê.
’n Polisiewoordvoerder het gisteraand om 18:30 gesê polisielede is gistermiddag na die hospitaal gestuur om
Vosloo se verklaring te gaan afneem.
- Beeld