Rowers slaan toe waar wesies uitspan
2011-07-02 08:07
Johannesburg - Rowers het ’n vuurwapen teen ’n negejarige meisie se kop gehou toe hulle van een kamer na ’n ander beweeg het tydens ’n rooftog by ’n kampterrein in Krugersdorp.
Die meisie was saam met haar ma, ’n maatskaplike werker van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR), by die Achterbergh-konferensiesentrum-en-kampterrein in Chancliff, Krugersdorp, vir ’n vakansie saam met ’n groep van sowat 60 weeskinders.
“Dit was veronderstel om ’n rustige wegbreek vir die kinders te wees en hulle uit die werklikheid van geweld en traumatiese ervaring te haal,” het Henda van der Merwe, direkteur van die CMR vir Gauteng-Oos, in ’n verklaring gesê.
“Vir die meeste weeskinders was dit hul eerste vakansie.”
Die negejarige meisie en haar ma het in ’n kamer geslaap en ’n ander maatskaplike werker en dié se vierjarige seuntjie in ’n ander kamer in die Suiderbergh-verblyfplek.
Nog twee CMR-werknemers het saam met die weeskinders op die Nevenbergh-kampterrein daar naby geslaap.
Dinsdagoggend omstreeks 03:00 het drie rowers met ’n vuurwapen en skroewedraaier op Suiderbergh toegeslaan.
Van der Merwe het gesê die rowers het die voordeur vermoedelik met die skroewedraaier oopgekry.
“ ’n Vuurwapen is teen die meisie se kop gehou terwyl hulle van een kamer na ’n ander beweeg het.”
Die seuntjie het gesien hoe hulle ook by die kamer waarin hy en sy ma was, inkom.
“Die vroue se juwele is van hul lywe afgeruk,” het Van der Merwe gesê.
“Die meeste van hul klere is gesteel ... en die rowers het selfs die melk in die yskas uitgedrink, na die motors geloop en ’n handsak uit die kattebak gehaal.
“Daarna het hulle sakke vol speelgoed en kryte leeggemaak en die buit daarin gegooi,” het Van der Merwe gesê.
Geeneen van die weeskinders is geteiken nie.
Die rowers is daar weg met R2 000, agt selfone, juwele en klere.
Die groep het dieselfde dag weer na Pretoria vertrek.
Ben Stassen, hoofbestuurder van die kampterrein, het die voorval as ’n “onaangename gebeurtenis” beskryf.
“Dit is die eerste keer in Achterbergh se geskiedenis dat so iets gebeur,” het Stassen gesê. Die kampterrein het volgens hom kontrakte met twee veiligheidsmaatskappye vir deurlopende veiligheid.
Stassen het gesê veiligheidsmaatreëls by die kampterrein is reeds verskerp.
Volgens ao. Dennis Jones, polisiewoordvoerder, ondersoek die Krugersdorpse polisiekantoor die voorval.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld