Rowers slaan toe op Menlyn Park-winkelsentrum
2011-09-15 13:35
Kaapstad – 'n Gewapende bende het 'n winkel beroof voor hulle by die Menlyn Park-winkelsentrum in Pretoria ingestorm het, beweer ooggetuies.
Die vier mans het glo polisiebeamptes van 'n 9mm-pistool beroof voor hulle in 'n taxi gevlug het. Die winkelsentrum is ontruim, berig die eNews-kanaal.
Dit is nog nie bekend of die bende mense in die winkelsentrum aanhou nie.
Na verneem word het die bende die Nike-winkel by die Atterbury Valuemart beroof, waarna hulle by die winkelsentrum ingehardloop het.
"Chaos by die Menlyn-winkelsentrum, rooftogte het in die sentrum plaasgevind. Hulle is nou by 'n kantoorpark en die sekuriteit het alle deure by die kantore gesluit," het Altaaf Sayed getweet.
"Sit vas in verkeer buite Menlyn-winkelsentrum. Meer as 20 polisievoertuie en twee helikopters in die gebied. Glo 'n bendeverwante rooftog," het @Stefano Maiorana getweet.
Geen verdere besonderhede is beskikbaar nie.
Is jy in die omgewing? Stuur jou storie aan Nuus24.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24