Rowers slaan op die vlug met R27 000
2010-10-19 01:03
Durban – Twee persone in Pietermaritzburg is beseer toe rowers sowat R27 000 onder hul bed uitgesteel het, het die polisie in KwaZulu-Natal Maandag gesê.
“Die paartjie het Sondag gelê en slaap toe vyf mans, waarvan drie gewapen was, by hul huis ingestorm het. Die verdagtes wou glo geld hê,” het ao. Joey Jeevan, polisiewoordvoerder, gesê.
“Een van die verdagtes het die man met die agterkant van sy vuurwapen oor die kop geslaan en daarop aangedring dat hy die geld aan hul oorhandig.”
Die vrou (22) is glo ook beseer.
Die man (25) het die emmer, met sowat R27 000 daarin, onder die bed uitgehaal en aan die verdagtes gegee.
Na bewering spaar die paartjie dié geld reeds sedert 2007.
“Die verdagtes het ook ses selfone uit die huis geneem voor hul op die vlug geslaan het. Die paartjie het hulp ontbied en is na die hospitaal vervoer vir mediese behandeling.”
Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA