Rowers skiet wag, blaas kitsbank op
2011-03-21 08:02
Al wat twee veiligheidswagte gehoor het voordat rowers ’n kitsbank in Centurion opgeblaas het, is twee skote en ’n harde slag.
Die twee skote was dié van die rowers wat op ’n veiligheidswag van ’n ander sakeperseel geskiet het.
Die harde slag was die ENB-kitsbank in Corporate Park South op die hoek van Ou Johannesburgweg en Tealrylaan wat opgeblaas is.
Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het gister gesê ’n onbekende aantal rowers het dié kitsbank eergisteroggend omstreeks 02:30 opgeblaas.
Twee rowers het oor die sakeperseel se hek gespring wat saans gesluit word.
Volgens Huma het twee rowers twee veiligheidswagte oorrompel, hulle met boeie vasgebind en in ’n klein kamer gelaat.
Die rowers het die hek se sleutel geneem en die hek oopgesluit waarna hul makkers met hul wit Mercedes-Benz agteruit in die perseel gery het.
“Terwyl die veiligheidswagte in die kamertjie gesit het, het hulle ander stemme as dié van die oorspronklike twee rowers gehoor,” het Huma gesê.
“Hulle het ’n skietery en ’n groot slag gehoor.
Die skietery het gebeur nadat ’n veiligheidswag van ’n perseel langs Corporate Park ondersoek ingestel het toe hy onraad vermoed het.
Hy is in die voet geskiet.”
Dit is nie duidelik met hoeveel kontant die rowers weggekom het nie.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
- Volg Nuus24 op
Twitter.
- Beeld