Rowers skiet polisieman by bakkery
2010-01-20 15:04
Johannesburg – ‘n Polisiebeampte is gewond toe hy tydens ‘n geskietery tussen polisie en vier vermeende rowers raakgeskiet is. Die rowers het glo ‘n bakkery in Putfontein probeer roof.
“Polisie het inligting oor die rowers se planne ontvang en Dinsdagmiddag by die bakkery opgedaag. ‘n Skietery het gevolg en die inspekteur is gewond,” het Snr.supt Noxolo Kweza gesê.
Die vier mans het van die toneel gevlug maar polisie het hulle vroeg Woensdagoggend in Mogoba naby Daveyton opgespoor.
“Nog ‘n skietery het uitgebreek toe polisie by ‘n plakkershut opgedaag het. Twee van die rowers is gewond. Hulle is hospitaal toe geneem en die ander twee is in hegtenis geneem,” het Kweza gesê.
Polisie het ook op twee vuurwapens, insluitende die gewonde polisieman se wapen, beslaggelê.
Die gewonde polisieman sterk tans in die hospitaal aan.
- Sapa