Rowers skiet man by huis dood
2012-01-12 18:58
Johannesburg – ‘n Man is deur rowers by sy huis in Thabong in die Vrystaat doodgeskiet, het die polisie Donderdag gesê.
Die 35-jarige man het Woensdagaand sy motor buite die huis parkeer. Hy het sy huis binnegegaan en is daar geskiet, het ao. Malebo Khosana gesê.
Hy is in die gesig en nek getref en het op die toneel gesterf.
“Die twee mans wat hierdie misdaad gepleeg het, het gevlug sonder om enigiets uit die huis te neem.”
Khosana het gesê die slagoffer se ma, ouma, broer en tienerdogter was ook in die huis. Hulle is met gewere aangehou.
“Hulle het met hulle gesit en wag vir die slagoffer om huis toe te kom. Hy is onmiddellik doodgeskiet toe hy die huis binnegegaan het. Die motief vir die moord is onduidelik,” het Khosana gesê.
Een van die vermeende moordenaars was vermoedelik betrokke by twee ander rooftogte by huise in Thabong vroeër vandeesmaand.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA