Rowers skiet Bok se broer
2010-02-22 06:33
Fanie van Rooyen
Johannesburg - Die broer
van ’n bekende Suid-Afrikaanse sportvrou is in Kilnerpark, Pretoria, in
die maag geskiet nadat hy, sy vrou en hul kind Saterdag kort ná
middernag by hul huis aangekom het en deur twee rowers oorval is.
Die
aanvallers het selfs later toe hulle gevlug het eers weer by die
slagoffer, ’n polisiekaptein, vertoef om sy tekkies van sy voete af te
steel.
Die polisieman is in die hospitaal opgeneem, waar hy ’n
noodoperasie ondergaan het. Teen gistermiddag was sy toestand ernstig,
maar stabiel.
Sy vrou is deur die rowers rondgeslaan en geskop,
maar hul 8-jarige dogtertjie, wat in die motor gelê en slaap het, is
nie beseer nie.
“Dit is ’n baie groot skok vir die familie. Elke
dag word hoeveel mense vermoor ... ek weet nie wat word van hierdie
land nie,” het die sportvrou, ’n voormalige Springbokatleet, gister
gesê.
Supt. Eugene Opperman, Gautengse polisiewoordvoerder, het
gesê die slagoffer is ’n kaptein van die polisie se nasionale
hoofkantoor in Pretoria. Hy het gesê die kaptein se vrou wil nie hê
hulle moet geëien word nie.
Volgens die polisieman se suster het die egpaar hul een hondjie dood buite die huis aangetref toe hulle daar stilhou.
Hulle het gedink hul ander hond het hom dalk doodgebyt en die vrou het die huis oopgesluit om na die ander hond te gaan soek.
Die
twee inbrekers het skynbaar geskrik toe die gesin opdaag en het agter
die huis deur ’n venster gespring en om die huis gehardloop.
Toe
hulle aan die voorkant kom, het die polisieman by die dooie hondjie
gestaan. Hy het die inbrekers gesien en na sy steeds luierende kar
gehardloop omdat hy bang was hulle sou met sy slapende dogtertjie
daarin wegjaag.
Een van die rowers het hom in die maag geskiet en hy het neergeval.
Toe
sy vrou die skoot hoor, het sy die veiligheidshek van die voordeur
gesluit en na hul kluis gehardloop om hul vuurwapen te kry.
Die
rowers het intussen weer deur die venster teruggeklim en haar erg
geslaan en geskop. Hulle het haar ring van haar vinger af gedwing en
haar selfoon gevat. Hulle het weer deur die venster gevlug.
Voor
die huis het hulle eers die gewonde polisieman se tekkies gesteel
voordat hulle te voet gevlug het. Die kar met die kind in het nog
gestaan en luier.
“Die vrou en kind is erg getraumatiseer en wil nog nie geëien word nie,” het Opperman gesê.
Die polisie ondersoek volgens hom ’n saak van poging tot moord en gewapende roof. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
- Beeld