Rowers oorval en skiet SA perderuiter
2011-10-19 07:10
Johannesburg – Een van Suid-Afrika se voorste perdespringruiters is Maandagaand op sy hoewe by Laezonia, noord van Johannesburg, oorval en geskiet.
Roger Hessen, wat Suid-Afrika verlede jaar tydens die Wêreldspele in Aachen, Duitsland, verteenwoordig het, was teen laat Dinsdag in ’n bedenklike, maar bestendige toestand in die hoësorgeenheid van die Unitas-hospitaal in Centurion, het Isobel Fowler, woordvoerder, aan Hilda Fourie gesê.
Hessen is ook ’n perdespring-afrigter en eienaar van die Phoenix Park-kunsruitersentrum op die hoewe.
Beeld het vertroulik verneem Hessen is met onwettige ontploffende 9 mm-patrone geskiet.
Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het aan Jacques Steenkamp gesê hy is hy twee keer geskiet, maar niks is gesteel nie.
Mia Swanevelder, Hessen se vriendin en self ook ’n springruiter en -afrigter van die Oos-Rand, was Maandagaand saam met hom in die huis toe die rowers omstreeks 21:00 op hom losbrand.
“Ek was gelukkig genoeg om nie gesien te word nie. Die polisie het my gevra om nie te veel te sê voordat die ondersoek afgehandel is nie, maar ek was genadiglik by hom en kon die bloed stop totdat die helikopter hom kom haal het.
“Dit was ’n groot skok. Dit is onaanvaarbaar dat dié soort dinge gebeur.”
Hessen is ’n lid van die Gauteng-perdevereniging, wat hom as ’n uitstekende ruiter en goeie vriend beskryf.
“Ons het nog minstens twee skoue gehad waaraan ons graag wou deelneem, maar Roger sal waarskynlik nie vanjaar nog kan perdry nie,” het Swanevelder gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld