Rowers hou meisietjies en swanger vrou aan
2011-12-23 08:40
Bloemfontein – Binne 24 uur het gewapende rowers op twee huise in Bloemfontein toegeslaan en onder andere ’n swanger vrou en twee vierjarige meisietjies aangehou terwyl hulle geld en eiendom gesteel het.
In die tweede rooftog is ’n sakeman en sy vrou in hul slaapkamer oorval, vasgebind en besteel.
Nie een van die huisrowers is al aangekeer nie, het ao. Zweli Mohobeleli van die polisie gesê.
Twee vroue, onder wie een sewe maande swanger is, en hul vierjarige dogtertjies is Woensdag in ’n huis in ’n die gegoede woonbuurt Hillsboro aangehou.
Dit is nie seker hoe die twee rowers in die erf gekom het nie.
Hulle was nie gemasker nie. Die een man het ’n groot mes en die ander ’n vuurwapen gehad. Laasgenoemde kon ’n speelding gewees het.
Die vroue en kinders is deur die rowers in die badkamer en die tuinwerker in die toilet toegesluit.
Die rowers het die huis geplunder en selfone, juwele, ’n skootrekenaar en ’n klein kluis met geld gesteel, waarna hulle gevlug het.
Die tuinwerker het die toilet se deur oopgebreek en die badkamer oopgesluit. Die polisie is ontbied.
Buiten kneusplekke, is niemand beseer nie.
Die vroue en kinders is wel erg getraumatiseer, het een van die vroue se man aan Volksblad gesê.
Rowers het ook op ’n huis in Fichardtpark toegeslaan.
Ntau Mokoena, ’n sakeman, en sy vrou, Kelebogile, het Donderdag in die vroeë oggendure in hul huis in Schnehagesingel geslaap toe drie gemaskerde mans met 9 mm-pistole hul slaapkamer binnegekom het. Aanbouings word by die huis gedoen.
Die rowers het vermoedelik deur ’n gat in die muur, wat nog in ’n venster omgeskep moet word, toegang tot die huis verkry.
Mnr. Mokoena sê die rowers het hulle met wasgoeddraad vasgebind. “Hulle het gesê ek moet nie geraas maak nie, want hulle sal skiet.
Hulle het geld en vuurwapens gesoek.”
Mnr. Mokoena het vroeër geld getrek om sy werkers se salarisse en bonusse te betaal.
Volgens die man het die rowers op die kluis se sleutel aangedring en R65 000 daaruit gesteel.
Daar was geen vuurwapens in die kluis nie.
Die rowers het ook sowat R20 000 uit ’n beursie en laai, selfone en horlosies gesteel.
“Hulle het haar (sy vrou) se trouring van haar vinger aggehaal.”
Die mans het toe gevlug.
Mev. Mokoena het haarself losgewikkel en haar man losgemaak.
Die egpaar se kinders en familielede was in die huis, maar sover bekend was die rowers slegs in die hoofslaapkamer en die kombuis.
Enigiemand met inligting oor dié rooftog kan kapt. Anton Bowman by 082-468-1624 bel. In verband met die ander huisrooftog kan mense met inligting kapt. Moeke-tsi Lesia by 082-466-8618 kontak.
Pieter Steyn berig inbrekers het Woensdagaand ook op die bekende drama-onderwyser Petro Müller se huis in Agtstestraat, Arboretum, toegeslaan.
Müller vermoed hul huis is dopgehou omdat hulle die oggend met vakansie vertrek het en daar dieselfde aand nog ingebreek is.
Sover hulle kan agterkom, is niks gesteel nie.
Die inbrekers het vermoedelik op die vlug geslaan nadat die alarm afgegaan het. Die inbrekers het wel ’n spoor van verwoesting in die huis gelaat.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad