Rowers gee voor hulle is polisiebeamptes
2011-11-23 21:05
Johannesburg – Twee mense in Krugersdorp is in twee aparte
voorvalle deur mans wat voorgegee het dat hulle polisiebeamptes is, beroof.
Die voorvalle het tussen 20:30 en 21:30
Maandagaand plaasgevind, het polisiebeampte Solomon Sibiya gesê.
Die mans, wat koeëlvaste baadjies bo-oor hul gewone
klere aangehad het, het by inwoners van Kagiso aangeklop en gesê hulle kom van ‘n
polisie-eenheid wat in Roodepoort gebaseer is.
Die inwoners is gevra om hul geregistreerde
vuurwapens aan die sogenaamde polisiebeamptes te oorhandig.
Sibiya het mense gewaarsku om nie sommer hul deur vir
enigiemand wat sê hulle is ‘n polisiebeampte oop te maak nie.
Hulle moet seker maak dat die sogenaamde polisiebeamptes hulself kan identifiseer.
Hulle sal onder andere ook met ‘n geregistreerde
polisievoertuig ry.
Indien inwoners steeds nie seker is nie, kan
hulle die naaste polisiekantoor bel om die beamptes se identiteit te bevestig.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA