Rowers deur gemeenskap doodgeslaan
2011-06-08 20:03
Johannesburg - Twee mans is doodgeslaan deur gemeenskapslede in Zimbane nadat hulle ‘n geweer gesteel en probeer het om ‘n winkel te beroof, het die polisie in Mthatha Woensdag gesê.
“Ons veroordeel hierdie moorde, aangesien dit daarop dui dat lede van die gemeenskap aanhou om die reg in hul eie hande te neem,” het kapt. Alfred Zamukulungiza Jozana gesê.
Die mans, onderskeidelik 22 en 27 jaar oud, was besig om die winkel Dinsdagaand te beroof toe hulle na buite geneem en aangerand is.
“Dit gebeur gedurig in Mthatha. In hierdie geval het die mense die mans geken.
“Hulle was kwaad dat voorvalle soos dit aanhou om in hul eie dorp te gebeur.”
‘n Saak van moord word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA