Rowers by TUT vlug met registrasiegeld
2012-01-26 10:02
Johannesburg – Twee rowers het R900 000 kontant by die Tshwane-universiteit van Tegnologie (TUT) gesteel, het ‘n koerant berig.
Volgens The Star was die rowers soos wagte van Protea Coin aangetrek. Die twee mans het ook ‘n voertuig bestuur sodat dit lyk asof hulle vir dié veiligheidsmaatskappy werk.
Die twee mans het by die TUT se hoofkampus in Pretoria ingery sonder dat enigiemand onraad vermoed.
TUT sê die rowers het studente se registrasiegeld gesteel.
Petrus van Niekerk, hoofbeampte van Protea Coin, kon nie verduidelik hoe uniforms, kentekens en ander toerusting in die rowers se hande beland het nie.
“Ons opposisie is ook al deur hierdie tipe ding geraak. Dit is nie net ons nie,” het Van Niekerk gesê.
Die diefstal is eers opgemerk toe die regte wagte die geld kom haal het.
“Hulle het presies geweet wat om te doen, wat om te sê en waar om te gaan. Hulle was so goed dat hulle elke veiligheidspunt wat ons gehad het, oorgeslaan het,” het Willa de Ruyter, woordvoerder vir TUT, gesê.
Lt.kol. Lungelo Dlamini sê ‘n saak van diefstal word ondersoek, het die koerant berig.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA