Rowers blaas kitsbank op, kaap motor
2011-03-28 09:27
Beeld
Vermoedelik ses gewapende rowers het ’n motor gekaap nadat hulle ’n kitsbank by ’n vulstasie aan die Oos-Rand opgeblaas het.
Hulle het met ’n groot bedrag weggekom.
Tryna Wolmarans, polisiewoordvoerder, het gesê die mans het Vrydag omstreeks 04:00 die Absa-kitsbank by die Shell-vulstasie in Totiusstraat in Benoni opgeblaas.
“Sowat ses gewapende mans het by die vulstasie opgedaag en die werkers oorval.
“Hulle was almal met AK47’s gewapen,” het Wolmarans gesê.
Die rowers het die werkers in die winkel toegesluit terwyl hulle die kitsbank opgeblaas het.
’n Motoris wat daar stilgehou het, is oorval en saam met die werkers toegesluit.
“Die verdagtes het die oorblywende stukke van die kitsbank opgetel en agterop hul Bantam-bakkie gegooi,” het Wolmarans gesê.
Die verdagtes het ook in die gekaapte wit Volkswagen Citi Golf gevlug wat later verlate, sowat ’n kilometer van die toneel, gevind is.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld