Rowers binne 15 minute vas
2009-09-16 15:22
Pretoria - Drie booswigte is 15 minute ná hulle ’n besigheid in Marble Hall beroof het, in hegtenis geneem.
Die mans het Dinsdag ’n onbekende hoeveelheid geld by ’n kontantleningsonderneming gesteel, het supt. Mohale Ramatseba van Limpopo-provinsie se polisie Woensdag gesê.
"Die roof het om 16:25 Dinsdagmiddag plaasgevind. Teen 16:40 was al drie oortreders agter tralies," het die superintendent gesê.
Die polisie het die geld en twee ongelisensieerde vuurwapens in beslag geneem.
Die mans sou Donderdag in Groblersdal se landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens.
- Sapa