Rower trek rok aan om polisie te fnuik
2011-03-10 07:01
Pretoria – Die pogings van ’n vlugtende rower wat hom met ’n huishulpuniform vermom het in ’n poging om van die polisie weg te kom, was vergeefs.
Drie mans van tussen 20 en 30 jaar oud was lede van ’n bende rowers wat kort tevore ’n Chinese winkel in Faerie Glen, Pretoria, van goedere en ’n onbekende bedrag geld beroof het.
Die rowers het in ’n VW Jetta en ’n rooi Opel Corsa van die toneel weggejaag.
Konst. Portia Maleka, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het omstreeks 16:00 ’n beskrywing van die twee motors uitgesaai nadat hulle van die rooftog in kennis gestel is.
“’n Patrollievoertuig het die gesoekte motors in Simon Vermooten-weg gewaar en hulle agternagesit en tot by die kruising met Frangipanilaan gejaag, waar die Opel gebots het,” het Maleka gesê. Dié kar het ’n verkeerslig getref.
Die Jetta het vanuit Simon Vermooten-weg op die N4-hoofweg gegaan en weggejaag.
“Polisieversterkings het kort ná die rowers se ongeluk op die toneel opgedaag en twee van die rowers is net daar aangekeer,” het sy gesê.
“Die derde rower het oor ’n muur gespring en die polisie het na hom begin soek.”
Hildegard Kruger, ’n inwoner van Kandelaarstraat in La Montagne, het gister vertel hoe sy, terwyl sy in die kombuis doenig was, deur die kombuisvenster beweging by die huishulp se badkamer gesien het.
“Ek het op die buurtwagradio geluister na als wat gebeur en uit die hoek van my oog gesien hoe die huishulp se buitekamerdeur beweeg,” het Kruger gesê.
Die rower was toe in die badkamer doenig om een van die huishulp se uniforms aan te trek, het dit later geblyk.
In daardie stadium het die buurtwag gedink die twee rowers wat aangekeer is, is die enigstes wat deur die polisie gesoek is.
“Toe ek hoor hulle soek na ’n derde rower, het ek dadelik die buurtwagradio gegryp en vir hulle gesê om die polisie te roep om in my buitekamer te kom kyk.”
Die rower met die rok aan het volgens haar self die kamer se deur oopgesluit toe hy besef die polisie het hom vasgekeer.
Die rower is kort daarna geboei in ’n blou uniform na ’n polisievangwa vergesel.
Die polisie soek nog na die ander rowers, wat glo met die gesteelde goedere en geld, asook vuurwapens, in die Jetta gevlug het.
Maleka het gesê geen skote is tydens die rooftog of jaagtog afgevuur nie en dat niemand in die voorval beseer is nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld