Rower sterf in skietgeveg met polisie
2010-10-18 15:00
Johannesburg - 'n Man wat tydens 'n wilde skietery met polisie dood is, is positief verbind aan die onlangse moord en rooftog by 'n juwelierswinkel in die Northgate-winkelsentrum, het die polisie in Gauteng gesê.
Kol. Neville Malila het gesê die polisie het ses mense wat onderweg was na KwaZulu-Natal Saterdagoggend in hegtenis geneem.
Die polisie glo hulle is deel van 'n bende van tussen ses en 12 mense watt 'n supermark in Zola 3, Soweto, Vrydagaand beroof het.
Ná dié rooftog is 'n taxi gekaap en die inligting wat aan die polisie verskaf is, het gelei tot die inhegtenisneming van die mans.
Een van dié mense het die polisie na 'n huis in die ooste van Johannesburg gelei.
"Toe speurders van die Jabulani-polisiekantoor toesak op die huis waar die verdagte wegkruip, is skote op hulle gevuur. Die polisie het in reaksie die verdagte doodgeskiet. 'n Polisieman wat in die onderlyf geskiet is, is na 'n hospitaal geneem en is in 'n ernstige, maar stabiele toestand," het Malila gesê.
Die polisie het beslag gelê op 'n R5 op die toneel.
Malila het gesê ondersoeke het die man wat 05:00 Maandagoggend doodgeskiet is, positief verbind aan die Northgate-rooftog
In dié rooftog is die eienaar van die juwelierswinkel doodgeskiet en vier mense beseer.
Drie mense is ná die voorval in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag in die Randburg-landdroshof verskyn.
"Speurders van die georganiseerde misdaadeenheid ondersoek die moontlikheid dat die ander verdagtes en die R5-geweer aan die Northgate- sowel as ander rooftogte verbind kan word," het Malila gesê.
Die ses mans wat Saterdag in hegtenis geneem is, sal Dinsdag in die Protea-landdroshof verskyn.
Persone met inligting oor die rooftogte of die verdagtes kan 08600-10111 bel.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA