Rower skuldig aan moord op winkelhulp
2010-04-29 10:49
Frans Coetzee, Volksblad
Kimberley – ’n Rower wat ’n halwe kan paraffien oor ’n vasgebinde buitelandse winkelhulp van Britstown gegiet en die hulpelose slagoffer aan die brand gesteek het, is Woensdag in die hooggeregshof skuldig aan dié gruwelike moord bevind.
Waarnemende regter G.N.Z. Mjali het Bennet Williams van Britstown verder op aanklagte van huisbraak met die opset om te roof, roof met verswarende omstandighede en brandstigting skuldig bevind.
Williams en ’n medepligtige, Samuel Mokemane (18) van Mziwabantu, Britstown, het Siaful Islam op 18 Augustus ten tyde van ’n rooftog in die winkel vermoor.
Mokemane wat vroeër skuld op die aanklagte beken het, is in Oktober tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Mokemane het in sy skriftelike pleitverduideliking onder meer erken hy en Williams het elkeen ’n brandende vuurhoutjie op Islam gegooi nadat hulle hom vasgebind en die paraffien oor hom uitgegiet het.
Hulle is toe met die buit vort.
Die regter het in haar uitspraak gesê ondanks klein weersprekings was Mokemane se getuienis teen Williams aanvaarbaar.
Mokemane het in kruisondervraging gesê hy is tevrede met die straf wat hy weens die misdrywe uitdien.
Hy het teen Williams getuig sodat geregtigheid geskied.
Dieselfde kan nie van Williams se getuienis gesê word nie. Sy weergawe is onwaarskynlik as dit met die staatsaak vergelyk word.
Adv. Johlene Mabaso van die direkteur van openbare vervolging in die Noord-Kaap kla aan. Adv. Johan Cloete van regshulp tree namens Williams op.
Ao. Chris Noëth van die Britstown-speurdiens is die ondersoekbeampte.