Rower skiet homself in die kop
2012-01-18 13:00
Johannesburg – ‘n Gewapende rower het selfmoord gepleeg en drie ander rowers is in hegtenis geneem nadat hulle ‘n plaaswinkel in Delareyville beroof het, het die polisie in Noordwes Woensdag gesê.
Ses mans het Dinsdagoggend tydens die rooftog drie gewere uit die winkel se kluis gesteel, het kapt. Tselane Nkala gesê. Hulle het daarna gevlug.
“Die polisie het agter die mans aangehardloop en het hulle in bosse gevind waar hulle weggekruip het,” het Nkala gesê.
“Een van die mans het ‘n geweer gehad en het homself in die kop geskiet voordat die polisie hom in hegtenis kon neem. Die polisie kon drie van die ander verdagtes vastrek, terwyl die ander twee weggehardloop het.”
Die beseerde rower is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem, maar hy is dood voordat hy behandel kon word.
Die polisie was nog op soek na die ander twee wat weggekom het, het Nkala gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA