Rower pleeg selfmoord, 3 vas ná rooftog
2010-02-16 22:00
Johannesburg - 'n Vermeende rower het selfmoord gepleeg, een is gewond en drie ander in hegtenis geneem ná 'n transito-rooftog in Krugersdorp.
Insp. Dennis Jones, 'n polisiewoordvoerder, het gesê nege mans het 'n geldwa by 'n treinstasie in Krugersdorp voorgekeer.
Die polisie het later 'n Mercedes-Benz gesien wat teen 'n hoë spoed gery het, en dié voertuig agternagesit.
Die voertuig is toe in 'n cul-de-sac afgetrek en die insittendes het probeer vlug.
Een van die rowers het toe homself geskiet en een van sy makkers is gewond ná hy op die polisie losgebrand het.
Dié man en drie makkers is in hegtenis geneem.
Die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens en 'n geldboks. Die motor is glo vroeër in Krugersdorp gekaap.
Die ander vier rowers is steeds op vrye voet.
– Sapa