Rower in kop geskiet
2009-09-18 01:33
Johannesburg – ‘n Rower is minute nadat hy ‘n winkel beroof het deur ‘n burgerlike dood geskiet, het polisie Donderdag gesê.
Supt. Noxolo Kweza sê drie mans het ‘n winkel in Ennerdale vroeg Donderdagaand beroof. Twee van die mans was gewapen met vuurwapens.
"Hulle het geld en sigarette gesteel. Terwyl hulle van die toneel gevlug het, het die eienaar van die winkel agter hulle aangegaan en op hulle geskiet”, het Kweza gesê.
‘n Plaaslike inwoner het gesien wat gebeur en die rowers gewaarsku om te stop. Hulle het op hom gevuur en hy het toe teruggeskiet.
Een van die rowers is in die kop getref.
Dié man is op die toneel dood terwyl nog een van die rowers in hegtenis geneem is. Die derde man is op vrye voet.
Die winkeleienaar en inwoner het geen beserings opgedoen nie.
- Sapa