Rower dood in wilde skietery
2009-10-23 09:46
Johannesburg – Een van drie vermeende rowers is Vrydagoggend tydens ‘n skietery tussen hulle en die polisie by ‘n huis in Fontainebleau doodgeskiet, het die polisie gesê.
Volgens insp. Bokkie Keulder, polisiewoordvoerder op die toneel, het die mans die huis omstreeks 08:00 probeer roof.
“Met die polisie se aankoms op die toneel het die rowers in ‘n voertuig gevlug. Die polisie het hulle agterna gesit en in Robindale vasgekeer,” het Keulder gesê.
Die verdagtes het glo beheer oor hulle voertuig verloor en in ‘n muur vasgejaag. Twee van die drie mans het uit die motor gespring en op die polisie begin skiet. Die polisie het teruggeskiet en een van die mans is noodlottig gewond.
Die ander verdagte is in hegtenis geneem terwyl die derde rower in die wrak van die motor vasgekeer was. Hy is na die hospitaal geneem.
–Sapa