Rower dood in Boksburg-skietery
2009-12-01 05:47
Johannesburg - ‘n Gewapende rower is dood nadat hy met sy motor in ‘n polisievoertuig vasgery het en 'n skietery onstaan het, het die polisie in Gauteng gesê.
Supt. Eugene Opperman het gesê twee beamptes van die Noord-Rand blitspatrollie het die dood nouliks vrygespring toe ‘n groep gewapende rowers, op die hoek van Top- en Atlasweg in Boksburg, op hul begin skiet het.
Die polisiemanne was onbewus daarvan dat die rowers besig was om ‘n man, wat geld by ‘n nabygeleë bank getrek het, in drie voertuie te agtervolg.
“Een van die voertuie het in die agterkant van die polisiemotor vasgery. Die beamptes was heeltemal uit die veld geslaan toe die rowers skielik verskyn en op hulle begin skiet het,” het Opperman gesê.
Een rower is doodgeskiet terwyl die ander gevlug het.
Op die hoek van Ridge- en Elizabethweg, het die vlugtende rowers ‘n vrou se motor probeer steel, maar ‘n lid van die publiek het gesien wat aangaan en op hulle begin skiet.
‘n Ambulans het daarna een van die rowers omgery en ernstig beseer.
Die man wat aanvanklik deur die rowers agtervolg is, het intussen na die naaste polisiestasie gery.
“Die twee polisiebeamptes het wonderbaarlik geen beserings opgedoen nie,” het Opperman gesê.
Die polisie soek na nog 10 verdagtes wat tydens die skietery van die toneel gevlug het.
- Sapa