Rooftog lei tot Blou Bul se dood
2012-11-05 16:57
Johannesburg – ‘n Belowende jong Blou Bul-rugbyspeler het die naweek gesterf toe drie vermeende rowers teen hom vasgejaag het.
Beeld berig Nico van Vuuren, wat op stut en haker vir die Vodacom Blou Bulle se o.21-span uitgedraf het, is dood toe sy bakkie teen die voortvlugtige rowers se wegkommotor gebots het.
Van Vuuren het Saterdagmiddag – enkele minute nadat drie mans ‘n slaghuis beroof het – by ‘n kruising naby Komatipoort in Mpumalanga gesterf.
Die jong rugbyspeler se wit Toyota Hi-Rider-bakkie het teen die rowers se Nissan 1400-bakkie gebots en al vier is glo op slag dood, het Joseph Mabuza, woordvoerder van die departement van vervoer in Mpumalanga, gesê.
“Nico het nie eens geweet wat hom getref het nie,” het sy pa huilend aan die dagblad gesê.
“My kind is dood en hy het niks gedoen om dit te verdien nie...”
Kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het die rooftog bevestig.
“Daar is R115 000 kontant in die Nissan-bakkie gekry. Dis die geld wat in die slaghuis geroof is. Daar is ook twee 9 mm-pistole in die bakkie gekry. Die drie rowers, van wie een 30 en die eienaar van die Nissan met GP-nommerplate is, word blykbaar met verskeie ander misdade in die Laeveld verbind.”
Volg Nuus24 op Twitter