Robinson bekommerd oor snoerwet
2012-08-05 20:21
Johannesburg – Suid-Afrika moet eers sy geleenthede benut voor sy menslikheid na vore kan tree, het die VN se hoë kommissaris vir menseregte, Mary Robinson, Sondag gesê.
Die land moet nog aan verskeie probleme aandag gee, insluitend die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting, armoede en ongelykheid, en die voorkoming van geslagsgebaseerde geweld.
Robinson, voormalige Ierse president, het dié boodskap tydens die 10de jaarlikse Nelson Mandela-lesing in Kaapstad gebring.
“My uitdaging is om vandag met julle [Suid-Afrikaners] as vriende te gesels,” het sy gesê.
“’n Ware vriend sal jou nie slegs vertel wat jy wil hoor nie, maar ook wat jy nodig het om te hoor.”
“Dié herdenking is ’n goeie tyd om oor dinge na te dink,” het sy gesê.
"Verantwoordelikheid en deursigtigheid is wat nodig is om dienaars van die land se demokrasie te bly."
Sy het gesê dat sy bekommerd is oor die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting. Die wetgewing is ontwerp om korrupsie-ondersoeke van die publiek te weerhou, het sy gesê.
“Geheimhouding is die vyand van die waarheid in hierdie verband,” het sy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.