Robbeneiland-skool in visier
2011-09-11 10:34
Kaapstad - Die skooltjie op Robbeneiland wat oudpres. Nelson Mandela glo gesê het nooit moet toemaak nie, sluit dalk in Desember.
Daar is net 14 leerlinge in Robbeneiland Primêr en van die kinders pendel van so ver as Khayelitsha.
By Rapport se besoek Vrydag het Grant Shezi van die skoolbeheerliggaam gesê die moontlike sluiting gaan allermins sonder ’n stryd kom. Openbare protes gaan volg en pres. Jacob Zuma sal moet verduidelik indien Donald Grant, die Wes-Kaapse onderwysminister, die skool gaan sluit.
Die agtjarige Lerato Motlhale kom van ver af om elke dag op die eiland skool te gaan. Sy en haar pa, Lucas, wat op die eiland werk, staan 06:00 in hul huis in Gugulethu op om 07:30 die veerboot te haal.
As die see te onstuimig is, gee hul skoolhoof, Thetha Sithole, vir Lerato (gr. 3) en haar tien maats (hulle is in verskillende grade) klas in ’n lokaal by die Nelson Mandela Gateway-ouditorium in die Waterfront.
Die Robbeneiland Museum (REM), wat die eiland bestuur, betaal die kinders se daaglikse retoerkaartjies van R180 elk.
Lerato sê sy hou nie baie van die veerboot Dias nie: Die dieselreuk maak haar “’n bietjie naar”.
Boonop rol die boot te veel.
Sy was in 2008 in die kleuterskool op die eiland, maar dis later gesluit.
Die skoolkinders ry soms met die driedek-veerboot Sikhululekile eiland toe.
Drie van Lerato se maats vertel hulle gaan eiland toe omdat hul woonbuurte “violent” is.
Nou is hulle “hartseer” en “bang” dat die skool dalk in Desember sy deure vir altyd sal sluit.
Shezi het aan Rapport gesê die museum het ’n verskuilde agenda, want, reken hy, dit is eintlik die museum se redes wat die departement van onderwys nou wil voorhou vir die sluiting van die skool.
Hy vermoed die museum-mense wil die eiland in ’n vakansieoord verander. En dat hulle, asook die onderwysdepartement, politieke partye en ondernemings die skool afskeep. Die skool verval omdat dit nie geld vir instandhouding kry nie, sê Shezi.
Hy sê die skool op die eiland waar Mandela ’n “wêreldleier kom word het”, kan ’n “verwysingsraamwerk” wees waar kinders van alle rasse en agtergronde onderrig kan kry. Shezi onthou dat Mandela gesê het die skool moet nooit sluit nie.
Sithole en Fudzai Fadzai is die enigste onderwysers. Sithole is positief dat die skool nie gesluit gaan word nie. “Jy kan nooit jou erfenis tot ’n skielike stilstand bring nie.”
Fadzai sê dis vernederend en laakbaar dat die onderwysdepartement die skool se onderwys as swak beskou. “Indien dit dan so is, waar is die bewyse dat die departement ingegryp het,” wil sy weet.
“Ons het in Desember 19 leerlinge gehad, maar toe die ouers van die sluiting verneem het, het van die leerlinge die skool verlaat.”
Dié kinders, wat op die eiland woon, neem nou soggens veerbote na Kaapstad om daar skool te gaan.
Sibongile Mkhize, die museum se uitvoerende hoof, sê die museum se finansiering is van so ’n aard dat dit nie boonop die skool kan bestuur nie.
Die Kaapse onderwysdepartement het Dinsdag ’n openbare vergadering gehou sodat die publiek en belangegroepe redes kon gee waarom die skool nie behoort te sluit nie.
Grant gaan die aanbevelings van die departement, skoolbeheerliggaam en kommentaar van die publiek bestudeer en dan besluit.
As die skool gesluit word, sal ouers gehelp word om geskikte skole te vind.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport