Rits foute sink verkragtingsaak
2012-12-04 09:24
Johannesburg – 'n "Komedie van foute" het in die howe het veroorsaak dat 'n verkragtingsaak waarin 'n man van Limpopo tot lewenslange tronkstraf gevonnis is, uitgegooi word, het Beeld Dinsdag berig.
Die man was veronderstel om 'n lewenslange vonnis uit te dien nadat hy 'n 13-jarige meisie verkrag het.
Victor Thimbudzi is aanvanklik in 'n distrikshof skuldig bevind op aanklag van verkragting en is deur die hooggeregshof in Limpopo tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Hy het reeds 13 jaar van sy vonnis uitgedien, maar die appèlregters J.Heher, N. Mhlantla, R. Bosielo, M. Mbha en D. Swain het Maandag gesê die "komedie van foute" het begin toe Thimbudzi gepleit het en geëindig toe hy gevonnis is.
Thimbudzi is nooit daarvan in kennis gestel dat hy lewenslange tronkstraf opgelê kan word vir die verkragting van 'n 13-jarige meisie nie.
Verder was daar nooit enige dokumentasie van bewyse ingedien om te bewys dat die kind jonger as 16 is nie.
Die distrikshof het ook nooit verseker dat die slagoffer, in ooreenstemming met die regsproses, die verskil tussen die waarheid en 'n leuen verstaan nie en sy is dus nooit reg as 'n getuie ingesweer nie.
Die regter in die hooggeregshof het nooit die distrikslanddros se uitspraak bekragtig nie, dalk omdat groot dele van die getranskribeerde dokument verdwyn het. Die transkribeerder kon glo nie hoor wat in die hof gesê is nie.
Die appèlhof het sy vonnis en veroordeling ter syde gestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA