Reuse-dwelmfabriek van R1 miljard gevind
2009-12-04 12:03
Johannesburg - Misdaadintelligensie-beamptes het die tweede grootste dwelmklopjag in die land se geskiedenis op 'n plaas in Brakpan gemaak en beslag gelê op toerusting en dwelms ter waarde van R1 miljard.
Twee Nigeriërs (21 en 39) is in hegtenis geneem nadat 'n reuse-dwelmfabriek op 'n plaas in Brakpan gevind is.
Volgens die polisie het dié mense die fabriek gestig.
Sr. supt. Tummi Golding, 'n polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê twee ander verdagtes is nog op vrye voet.
"Die fabriek het al die toerusting waarmee tik vervaardig word. Die waarde van die dwelms (tik) wat ons sover getel het, het 'n straatwaarde van R1,2 miljoen en die toerusting is meer as R1 miljard werd."
Sy het gesê dié bedrae kan hoër wees as al die dwelms klaar getel is.
"Die grootte van dié laboratorium is amper net so groot soos dié van die polisie en dit is regtig groot."
Dié klopjag volg ná 'n intense polisie-operasie.
Die polisie probeer nog vasstel of die vier mans die plaas besit of gehuur het.
Die verdagtes verskyn binnekort in die hof.
– Sapa