Respekteer Zuma – ANC
2012-11-18 08:00
Durban – Pres. Jacob Zuma moet gerespekteer word as die leier van Suid-Afrika, het die ANC in die eThekwini-streek Saterdag gesê.
"Ons kan nie toelaat dat 'n regerende president beledig word nie," het Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die ANC in dié streek in KwaZulu-Natal, gesê.
Dhlomo het die Demokratiese Alliansie se besoek aan Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal, veroordeel.
"Dit kan slegs 'n wit madam [Helen Zille] wees wat na die president se huis as 'n vesting verwys."
Dhlomo het verder die DA en ander opposisiepartye, wat 'n mosie van wantroue teen Zuma ingedien het, gekritiseer.
"In 2009 het die mense van Suid-Afrika die mag aan die ANC gegee om te regeer. Hulle [die opposisiepartye] het die verkiesing verloor. Ons kan nie toelaat dat verloorders deur die agterdeur kom nie."
Honderde afgevaardiges sal voor die ANC se verkiesingskonferensie in Desember hul kandidate vir die party se topses-poste bekend maak.
Bheki Ntshangase, streeksekretaris van die ANC in eThekwini, het gesê al die takke steun Zuma vir 'n tweede termyn.
Die eThekwini-streek is die ANC se grootste streek, met meer as 100 takke en meer as 90 000 lede.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA