Reservis met gesteelde motor betrap
2011-02-03 10:56
Johannesburg – 'n Polisiereservis is in Jabulani, Soweto, in hegtenis geneem nadat 'n gesteelde motor in sy besit gevind is, het die Johannesburgse polisie Donderdag gesê.
Ao. Kay Makhubele het gesê 'n wenk het hulle na die reservis, wat 'n Corolla bestuur het, gelei.
'n Saak van motordiefstal vir dié motor is by die Vereeniging-polisiekantoor aanhangig gemaak.
Twee ander jeugdiges is ook in hegtenis geneem nadat 'n gesteelde Honda in hul besit gevind is.
Toe die polisie hulle wou aftrek, het hulle weggejaag en in Zola 1 teen 'n muur gebots.
Al drie verskyn binnekort in die Protea-landdroshof.
Volg Nuus24 op Twitter