Reservis glo sleutel in regse komplot
2012-12-24 12:01
Bloemfontein – Die Vrystaatse polisie wou Maandag nie kommentaar lewer op bewerings dat die polisiereservis Jaco Scherman ingestem het om as staatsgetuie op te tree teen die vier verregses wat Dinsdag op aanklagte van hoogverraad en terrorisme in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn het nie.
OFM berig die vier verdagtes, Johan Prinsloo, Mark Trollip, Hein Boonzaaier en Martin Keevy, is verlede week in hegtenis geneem nadat hulle glo ‘n bomaanval by die ANC se nasionale verkiesingskonferensie in Mangaung beplan het.
'n Polisiewoordvoerder, Billy Jones, het gesê die bewerings dat Scherman twee van die verdagtes opgelei het, nie van die polisie af kom nie en wou dus nie daarop kommentaar lewer nie.
Volgens berigte het Scherman erken dat hy ‘n verbintenis met Prinsloo en Boonzaaier het, maar ontken dat hy enige iets met die hul plan te doen gehad het.
Intussen het nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, verlede week in Bloemfontein gesê dat die betrokke saak beslis nog inhegtenisnemings sal oplewer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- OFM