Renosterstroper in Krugerwildtuin doodgeskiet
2013-01-27 09:01
Johannesburg – 'n Vermeende renosterstroper is in die Krugerwildtuin doodgeskiet en twee ander verdagtes is in hegtenis geneem, het die Valke gesê.
Wildbewaarders het Saterdagoggend 'n beseerde renoster gewaar wat besig was "om vir sy lewe te vlug" en het opgemerk dat die dier 'n skietwond het, het kaptein Paul Ramaloko gesê.
Hulle het die bloedspoor gevolg wat na drie Mosambiekse burgers in die wildtuin se Nwanetsi-gebied gelei het.
"Die vermeende stropers het 'n skoot afgevuur waarna die wildbewaarders teruggeskiet en een van die verdagtes gedood het," het Ramaloko gesê.
Die ander twee mans is in hegtenis geneem en sal Maandag in die hof verskyn.
'n Jaggeweer is ook tydens die voorval gekonfiskeer.
Volg
Nuus24 op Twitter.
- SAPA