Renoster se dood ná arres ’n raaisel
2010-09-29 07:41
Johannesburg - ’n Dragtige renosterkoei is in raaiselagtige omstandighede dood op die buurplaas van Dawie Groenewald, vermeende baasbrein van ’n beweerde renosterstropersindikaat wat verlede week in hegtenis geneem is.
Lourens Louw, eienaar van die plaas Mafunyani in die distrik van Musina (Messina), het gister bevestig een van sy renosterkoeie is eergister dood.
Beeld verneem die polisie is besig met toetse op ’n giftige middel wat naby ’n watergat op die plaas gekry is.
Mafunyani grens aan die plaas Prachtig, wat aan Groenewald (42) behoort. Groenewald, ’n oud-polisieman, is verlede week in die Musina-landdroshof op R1 miljoen-borgtog vrygelaat ná sy arrestasie weens sy beweerde betrokkenheid by die sindikaat.
Louw kon gister nie sê waaraan die renosterkoei dood is nie.
“Ek kan nie nou sê of die dier moontlik vergiftig of geskiet is nie. Ek wag vir die uitslag van die polisie se ondersoek.”
Volgens hom was die koei, wat sowat vier jaar oud was, dragtig.
“Dit kan wees dat sy dood is toe sy moes kalf. Sy het baie bloed aan haar gehad.”
Die polisie het die horing van die karkas af verwyder en dit is nou in veilige bewaring.
Louw het gerugte ontken dat hy inligting oor Groenewald se beweerde betrokkenheid by die sindikaat aan die polisie of natuurbewaarders gegee het.
Lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het bevestig die Musina-polisie ondersoek die renoster se dood. Sy het gesê die polisie doen toetse op die giftige middel wat gekry is. Daar word ook na patroondoppies gesoek.
Groenewald bedryf Out of Africa Safaris op die Prachtig-plaas. Die polisie is besig om die plaas om te dolwe op soek na renosterkarkasse.
Die polisie het gesê Groenewald, sy vrou, Sariette (34), en nog nege verdagtes was glo betrokke by “honderde voorvalle” waar renosters doodgemaak is. Hulle was glo ook betrokke by die afsny van die horings en het glo van die karkasse ontslae geraak.
Tielman Erasmus (33), ’n beroepsjagter wat vir Groenewald werk, en Dewald Gouws (25), ’n helikoptervlieënier, is ook in hegtenis geneem.
Volgens Gouws se Facebook-profiel is hy ook ’n werknemer op Prachtig. Helikopters waarvan die registerasienommers toegeplak is, was glo betrokke by renosterstropery.
Al die beskuldigdes moet weer op 11 April in die Musina-landdroshof verskyn.
- Beeld