Rekening-gemors in Gauteng bespreek
2011-02-03 13:31
Johannesburg – Munisipaliteite oorlaai inwoners se diensterekeninge wanneer hulle 'n geldtekort het, het Afriforum Donderdag gesê.
"Stadsrade misbruik die wet wat hulle toelaat om verbruik te skat. Wanneer stadsrade met geldprobleme sit, is die maklikste oplossing om mense se rekeninge op te jaag," het woordvoerder Cornelius Jansen van Rensburg in 'n verklaring gesê.
Gauteng se ANC-gesinde burgemeesters vergader Donderdag om rekening-probleme in die provinsie te bespreek.
Na 'n vloedgolf van klagtes oor foutiewe rekenings, afsluitings en dat dit byna onmoontlik is om by Joburg Connect se oproepsentrum uit te kom, het Johannesburg se burgemeester, Amos Masondo, verlede week gesê daar is nie " 'n krisis nie".
Donderdag het een van die stadsraad se skuldinvorderingsmaatskappye beken dat hulle vir sommige van die probleme verantwoordelik is.
Volgens Jansen van Rensburg is kapasiteitsgebrek een van die grootste redes vir die probleme, maar daar is verskeie ander faktore, waaronder die misbruik van die reg om op skattings te werk.
Daar is versoek dat die minister van plaaslike regering, Sicelo Shiceka, ondersoek instel.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA