Reguleer private hospitale, maan rade
2011-07-28 09:00
Kaapstad - Die regering moet dringend ingryp met ’n raamwerk om private hospitale te reguleer sodat hulle nie astronomiese pryse vir hul dienste kan vra nie.
Dít was Woensdag die boodskap van die Raad van Gesondheidsfinansierders van Suider-Afrika (BHFSA) sowel as die Raad vir Siekefondse (CMS).
Dr. Humphrey Zokufa, voorsitter van die BHFSA, het aan die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid gesê die 8,2 miljoen lede van siekefondse bly kwesbaar en groot bybetalings word dikwels vereis.
Voorts het die koste van versorging in hospitaalsale die hoogte in- geskiet net toe die staat die prys van medikasie begin reguleer het.
Dr. Boshoff Steenekamp, spesialis in strategiese projekte van die CMS, het gesê die besit van die private hospitaalsektor is te gekonsentreerd en ontneem mense van ’n keuse oor waar hulle behandel wil word.
Hy het verduidelik in 1996 was bykans die helfte van die private hospitale in metropolitaanse gebiede in onafhanklike besit, maar teen 1998 tot 2000 het basies drie groot maatskappye – Netcare, Life en Medi-Clinic – oorgeneem. Teen 2006 was slegs 12% van hospitaalbeddens in onafhanklike besit.
Volgens hom skaf sulke hospitale duur, wêreldklas- mediese toerusting aan, wat selfs beter is as dié in lande soos Engeland en Duitsland. Dit jaag ook kostes op.
Steenekamp het voorts verwys na die nadelige verhouding tussen private hospitale en spesialiste, laboratoriums en radioloë. Spesialiste word byvoorbeeld goedkoper huurtariewe aangebied om hul spreekkamers in of naby hospitale te hê.
Volgens hom is kollektiewe bedinging die enigste manier om balans in die mark terug te bring.
Dr. Nkaki Matlala, voorsitter van die Hospitaalvereniging van Suid-Afrika (Hasa), het volgehou dat dit onregverdig is om die koste van private gesondheidsorg te vergelyk met dié van openbare gesondheidsorg.
Hy het verduidelik die koste verbonde aan private hospitale is net soveel groter, terwyl openbare hospitale al hul geld van die regering kry.
“Private hospitale betaal vir die gehoue waarin hulle is en moet boonop 14% BTW betaal, terwyl staatshospitale dit nie doen nie,” het hy gesê.
“Staatshospitale betaal ook tussen 50% en 60% goedkoper per tenderprys as die private gesondheidsektor.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger