Regters los ondersoek na wapens en Cele
2011-10-29 09:04
Kaapstad – Twee regters wat deel sou wees van die kommissies van ondersoek na onderskeidelik die wapentransaksie en die geskorste polisiehoof, genl. Bheki Cele, gaan vervang word.
Regter Willem van der Merwe, een van drie regters wat sou dien in die kommissie van ondersoek na die multimiljardrand-wapentransaksie, het gevra om weens “persoonlike redes” onthef te word van dié plig, lui ’n verklaring deur die presidensie.
In dieselfde verklaring is aangekondig oudregter Yvonne Mokgoro, wat ’n raad van ondersoek na bewerings teen Cele sou lei, gaan vervang word deur regter Jake Moloi van die Vrystaatse hooggeregshof.
Tlali Tlali, woordvoerder van die ministerie van justisie en grondwetlike ontwikkeling, het gesê wetgewing vereis dat ’n regter van die hooggeregshof in dié raad moet dien. “Daar gaan dalk ook ’n botsing van belange wees, aangesien regter Mokgoro ’n raadslid van die polisiediens se trustfonds was.”
Van der Merwe het pres. Jacob Zuma in 2006 in sy verkragtingsaak vrygespreek. Hy is tans adjunk-regterpresident in Gauteng. Daar word voorsien dat die ondersoek na die wapentransaksie sowat twee jaar sal duur.
Op ’n vraag oor of die president die aanwysing vooraf met hom bespreek het, het Van der Merwe in ’n SMS aan Die Burger gesê hy “is vooraf genader”.
“Die tydperk wat dit sou duur, het eers later tot my kennis gekom. Dit is niemand se fout nie. Dit is bloot weens persoonlike en werksverwante redes.”
Volgens Van der Merwe tree hy in Desember 2012 af en het hy ook verpligtinge teenoor sy regter-president en hof.
Die wapenkommissie word gelei deur regter Willie Seriti van die appèlhof. Regter Francis Legodi, van die hooggeregshof in Pretoria, dien ook daarin. Daar is nog nie aangekondig wie Van der Merwe gaan vervang nie.
Moloi sal steeds, soos Maandag deur Zuma aangekondig, deur advokate Terry Motau SC en Anthea Platt bygestaan word in die ondersoek na bewerings van wangedrag teen Cele.
Hulle sal ook ondersoek instel na die openbare beskermer se bevindings teen hom en ’n aanbeveling aan Zuma doen.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger