Regter verwerp Naidoo se pleidooi
2011-11-07 23:32
Durban – Die regter in die Lotter-moordsaak het nié Mathew Naidoo se pleit van skuldig aanvaar nie en het sy borgtog herroep.
Die vermeende meesterbrein agter die moorde het vroeër sy pleidooi na skuldig verander.
Sy prokureur het hom later gevra om dié onverwagse verandering te verduidelik.
Naidoo het geantwoord dat hy nié die Lotters doodgemaak het nie, al het hy skuldig gepleit.
“Hoekom sê jy dan dat jy skuldig is?” het die regter gevra.
“Ek het wel probeer om die moord weg te steek,” het Naidoo geantwoord.
Die regter het gesê dat dit hom nie van moord skuldig maak nie en het sy pleidooi verwerp.
Naidoo het erken dat hy onder geweldige druk is.
“My senuwees gee in.
“Ek wil nie die hof mislei nie, maar partykeer weet ek nie wat om te sê nie,” het Naidoo erken.
Die aanklaer, Sheriza Ramoutha, het gesê dat Naidoo ten minste skuldig is aan sameswering tot moord en versoek dat sy borgtog herroep word.
Regter Shyam Gyanda het gevolglik Mathew Naidoo se borgtog van R20 000 herroep.
Naidoo, Hardus Lotter en sy suster, Nicolette Lotter, word daarvan beskuldig dat hulle hul ouers, Maria Magdalena “Riekie” Lotter (52) en haar man, Johannes Petrus Lotter (53), op 19 Julie 2008 vermoor het.
Die Lotters beweer Naidoo was die meesterbrein agter die plan om hul ouers te vermoor, dat hy aan hulle gesê het hy is die derde seun van God en dat God die Lotter-egpaar dood wil hê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA