Regter gee môre uitsluitsel oor Cope
2010-06-03 07:01
Die Burger
Johannesburg – Cope se galbitter leierstryd word môre op die spits gedryf wanneer die hooggeregshof in Johannesburg moet beslis wie van Mosiuoa Lekota en Mbhazima Shilowa die party se regmatige president is.
Regter Phineas Mojapelo, adjunkpresident van dié hof, sou Lekota se aansoek om ’n dringende hofbevel om sy status as partyleier te bevestig gister aangehoor het.
Cope se betwiste nasionale kongres het verlede naweek ’n mosie van wantroue teen Lekota ingestel en hom met Shilowa vervang. Lekota vra in die hofaansoek dat dié besluit tersyde gestel word.
Die aansoek is egter tot môre uitgestel nadat die Shilowa-kamp aangevoer het hy het nie genoeg tyd gehad om voor te berei nie.
Die twee kampe het die hof verlaat met die onderneming om hulself ’n dag lank in toom te hou. Shilowa en sy bondgenote mag Lekota nie uitsluit uit sy kantoor in Cope-Huis in Braamfontein, Johannesburg, nie.
Daar mag ook nie met die party se parlementêre kandidaatlyste gepeuter word nie, het Andries Keun, woordvoerder van die Lekota-faksie, gisteraand gesê.
Lekota en sy bondgenote het dié bepaling spesifiek aangevra omdat dit blyk die Shilowa-groep oorweeg dit om die lys aan te pas.
Dit is omdat Mvume Dandala, die party se parlementêre leier en ’n eertydse Shilowa-bondgenoot, volgens alle aanduidings bedank het en Lekota die volgende kandidaat op die lys is.
Indien Lekota die vakante setel in die Nasionale Vergadering (NV) opneem, sal dit bitter moeilik vir Shilowa wees om sy aartsvyand daar te verwyder. Dit kan slegs gedoen word ná ’n uitgebreide tugproses waarin bewys moet word Lekota tree strydig met Cope se beleid en grondwet op.
Hoewel Lekota dus daarop geregtig is om parlement toe te gaan, hou Shilowa ’n troefkaart: Politieke partye kry jaarliks een kans om hul lyste aan te pas en Cope het sy geleentheid nog nie benut nie.
Dandala het glo nog nie sy bedankingsbrief aan die parlement gestuur nie en daar word gegis dit word teruggehou totdat die Shilowa-faksie die lys kan verander.
Die faksietwis woed ná ’n mosie van wantroue in Lekota en Phillip Dexter, beleidshoof, by die nasionale kongres aanvaar is.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger