Regter: ET-aanklag bly dieselfde
2010-05-19 14:47
Johannesburg - Die landdroshof in Ventersdorp het ‘n aansoek van Chris Mahlangu se prokureur van die hand gewys nadat hy versoek het dat die aanklagte teen sy kliënt gewysig moet word.
Mahlangu word daarvan verdink dat hy en ‘n 15-jarige medepligtige glo die voormalige AWB-leier, Eugene Terre’Blanche, op sy plaas buite Ventersdorp vermoor het.
Die verdagte se prokureur, Puna Moroko, het gevra dat die aanklag teen sy kliënt vanaf ‘n skedule ses-oortreding na ‘n skedule vyf-oortreding verander word.
‘n Skedule ses-oortreding is beplan, terwyl ‘n skedule vyf-oortreding onbepland is.
Moroka het vroeër gesê dat hy sal argumenteer dat Mahlangu homself verdedig het en dat hy nie die moord op Terre’Blanche beplan het nie.
Tydens ‘n vorige verskyning in die hof het dit aan die lig gekom dat Mahlangu en sy vermeende medepligtige glo die moord in Terre’Blanche se perdestalle beplan het.
Die saak het Woensdag kort voor middagete weer begin nadat daar eers vir ‘n XiTsonga-tolk gewag moes word.
Moroko het ook beplan om die ondersoekbeampte kapt. Tsietsi Mano te ondervra oor sy bewerings dat Terre’Blanche geslaap het toe die voorval plaasgevind het.
“Ons sal Mano uitvra oor waar hy die inligting vandaan gekry het. Hy het baie om te verduidelik.” het Moroko gesê.
- Sapa