Regter: Barbie had wil van haar eie
2009-10-07 12:11
Pretoria – Die Pretoriase hooggeregshof het Woensdag bewerings van voormalige adv. Cézanne Visser, wat aanvoer dat sy geen wil van haar eie gehad het terwyl sy betrokke was in seksuele dade met jong meisies en drie vroue nie, verwerp.
“Die hof het bevind dat die beskuldigde nou vir gerieflikheidshalwe agter die aksies van Dirk Prinsloo wil skuil om haar eie optredes en dade te regverdig,” het waarnemende regter, Chris Eksteen, in sy uitspraak gesê.
Hy het gevind dat dit onwaarskynlik is dat sy nie haarself versoen het met haar voormalige minnaar se modus operandi om slagoffers te bedwelm en hulle dan seksueel te misbruik nie.
Dit was ook onwaarskynlik dat sy drie jong meisies by ‘n kinderhuis gaan haal het en nié geweet het dat Prinsloo hulle seksueel wil misbruik nie.
Visser het skuld ontken op 14 klagtes van bedrog, onsedelike voorstelle aan minderjariges om onsedelike dade te pleeg, onsedelike aanranding, verkragting, besit en vervaardiging van kinderpornografie en die besit van dagga.
Sy beweer dat Prinsloo, wat tans in ‘n Russiese tronk is, haar soos ‘n pop gemanipuleer het en dat sy slegs sy bevele uitgevoer het.
Eksteen het gesê dat as sy nie ‘n wil van haar eie gehad het nie, sou sy nie ernstig met Prinsloo baklei het, om verskoning aan een van die jong meisie gevra het, alle aanbiedinge van hulp om van hom af weg te kom verwerp het en vals verklarings onder eed gemaak het om hom te beskerm nie.
Die uitspraak duur voort.
- Sapa