Regstellende aksie nog lank nie verby
2009-10-11 18:40
Jacob Rooi
Johannesburg- Mense wat meen die dae van regstellende aksie is getel, leef klaarblyklik in ’n gekkeparadys.
Dís duidelik uit die uitsprake eergister van Jimmy Manyi, president van die Black Management Forum (BMF), ’n organisasie wat regeringsbeleid probeer beïnvloed.
Die herverkiesing van Manyi Woensdag op die BMF se konferensie in Midrand het tot ’n polemiek afgegee omdat hy onlangs ook die direkteur-generaal in die departement van arbeid geword het.
Daar is mense wat meen hy behoort nie op albei stoele te sit nie.
Manyi, bekend om sy gedrewenheid wat regstellende aksie betref, het Vrydag op die konferensie gesê transformasie vind te stadig plaas.
Die gees (spirit) daarvan word deur Suid-Afrikaanse maatskappye ondermyn en syfers wys dit ook, het hy gesê.
“Die transformasiekoers van 1% per jaar is ’n grap.”
Volgens Manyi stel sommige maatskappye wel bemagtigingsteikens op, maar doen niks om dit na te kom nie. Hy het herhaal dat sy departement stappe beoog wat maatskappye gaan dwing om arbeidswette te respekteer – of ’n duur prys te betaal.
Die arbeidsinspeksiediens gaan ook opgeknap word om die nakoming van arbeidswette te monitor.
Manyi het die finansiële sektor en mynbedryf uitgesonder en gesê samesprekings vind binnekort plaas met Eskom, Nedbank en Ou Mutual.
As daar groter eerbied was vir die gees van transformasie, was dit dalk makliker om regstellende maatreëls vroeër of later te bekyk, het hy gesê.
Op ’n vraag of regstellende maatreëls nie eerder op klas gebaseer moet wees as ras nie, het hy aan Rapport gesê mense sit die pot mis. Apartheid was op ras gebaseer – en daar is teen swart mense op grond van ras en velkleur gediskrimineer.
“Maar dit gaan ook nie daaroor om van mense ontslae te raak deur hulle Kanada of Australië toe te jaag nie. Dit gaan om billikheid en geregtigheid.”
In sommige gevalle word swart werknemers wel in poste aangestel en titels gegee, maar die gepaste verantwoordelikhede gaan nie daarmee gepaard nie.
Dié kwessie is ook deur ulius Malema, ANC-jeugleier, geopper, spesifiek in ’n hernude aanval op Nedbank.
Malema, wat die BMF se laaste konferensie-sessie toegespreek het, het van sy radikale standpunte herhaal, onder meer oor die nasionalisering van myne.
Oor grondhervorming het Malema gesê die ANC het ingestem tot die beginsel van vrywillige koper/vrywillige verkoper.
Omdat politieke vryheid die eerste prioriteit was, is daartoe ingestem, maar stemreg beteken niks sonder grond nie.
Mense kan stem tot hulle groen word, “maar solank ons nie grond het nie, beteken vryheid niks,” het Malema gesê.
- Rapport