Regsman te 'vuil' vir hof
2009-10-16 09:45
Erika Gibson
Pretoria - Die sekssaak van ’n kapelaan in die lugmag moes gister in die militêre hof in Thaba Tshwane uitgestel word omdat sy prokureur twee dae laas gebad het.
Die prokureur, ene Ebrahim van Laudium, het volgens die staat laat weet dat hy weens wateronderbrekings in dié woongebied nie in ’n toestand is om in die hof te verskyn nie.
Laudium is reeds die afgelope twee dae sonder water weens ’n reservoir-probleem.
Volgens die staat het hulle aangebied dat die prokureur in een van die militêre menasies naby die militêre hof bad net sodat die saak gister kan voortgaan. Ebrahim was nie dáárvoor te vinde nie. Kol. Len Els, senior militêre regter, het op dié verduideliking gesê hy kan nie glo wat hy hoor nie.
Hy het aan kpln. W.T. Ndala, wat bedroë sonder sy regsverteenwoordiger voor Els in die beskuldigdebank moes staan, gesê hy beskou Ebrahim se verskoning nie as geldig nie.
“Ek weet ek kan u nie daarvoor blameer nie, maar ek hoop u dra my beswaardheid aan hom oor.”
Ndala, ’n lugmagkapelaan van die Waterkloof-lugmagbasis, staan tereg op aanklag van skandalige gedrag nadat hy saam met ’n kollega se vrou in die bed betrap is.
Hy is aangekla omdat hy minstens saam met haar geslaap en waarskynlik ook met haar seks gehad het.
Sers. M.K. Rampeng, wat vroeër in Waterkloof-offisiersmenasie gewerk het, se man is ook ’n sersant in die lugmag se BBP-beskermingseskader.
Haar man het die klag teen die kapelaan aanhangig gemaak.
Die voorval het op 7 September 2007 gebeur toe die sersant sy vrou en Ndala glo in een van die BBP-kamers in die menasie betrap het. In die rusie wat gevolg het, is ’n vuurwapen ook op Ndala gerig.
Die lugmag het vroeër gesê ’n ondersoek is na die voorval begin. Die uitslag van die hofsaak sal bepaal of die vrouesersant en Ndala hul poste in die lugmag sal behou.
Ndala het vroeër op sý beurt ook ’n klag teen die sersant se man gelê omdat hy ’n vuurwapen op hom gerig het.
- Beeld