'Regses' nie met Mangaung verbind
2012-12-17 18:00
Johannesburg – Die vier mense wat in hegtenis geneem is weens beweerde dade van terrorisme word nie met die ANC se nasionale konferensie in Mangaung verbind nie, het die Vrystaatse polisie Maandag gesê.
"Op hierdie stadium verbind ons nie enige van die arrestasies met die konferensie nie," het brig. Billy Jones, woordvoerder, gesê.
"Die dade van hierdie verdagtes was landwyd."
Hy het bevestig slegs vier mense, wat glo regsgesindes is, is in hegtenis geneem.
"Die verdagtes is tussen die ouderdomme van 40 en 50. Die perseel is deursoek en bewyse wat die ondersoek steun is gekonfiskeer."
Die vier verdagtes gaan aangekla word en sal binnekort in 'n hof verskyn.
Twee van die vier wat in hegtenis geneem is, is lede van die nuutgestigte Federale Vryheidsparty, het Francois Cloete, nasionale sekretaris van die party, bevestig.
Cloete het gesê die party se president en 'n lid van hulle uitvoerende raad is op Mookgopong, voorheen Naboomspruit, in Limpopo in hegtenis geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA