Regses aangekla oor 'sluipmoord-plan'
2012-12-18 14:11
Bloemfontein – Vier mans is Dinsdag van hoogverraad aangekla vir 'n beweerde komplot om tente by die ANC se nasionale kongres in Mangaung op te blaas en president Jacob Zuma en ander top-amptenare tereg te stel.
Die vier verdagtes, Mark Trollip, John Martin Keevy, Johan
Hendrick Prinsloo en Hein Boonzaaier, is Dinsdag deur sekuriteitswagte met aanvalsgewere na die landdroshof in Bloemfontein begelei.
Die staatsaanklaer, Shaun Abrahams, het gesê die mans wou 'n onafhanklike Boerestaat stig en hulle het 'n aanval op die ANC se verkiesingskonferensie, wat tans in die stad onderweg is, beplan.
"Die plan het 'n mortier-aanval op tente waar die ANC-afgevaardigdes vergader ingesluit, waarna Zuma en ander ministers geteiken sou word terwyl hulle besig was met aandete," het Abrahams aan die hof gesê.
"Die groep se doelwit [om A47-aanvalsgewere in die hande te kry], is 'direk' gemik op die leierskap van die ANC," het Abrahams gesê.
Owerhede het aanvanklik ontken dat die inhegtenisnemings verband hou met die ANC se kongres in Mangaung.
Volg
Nuus24 op Twitter.
- Reuters