Regse sê hy’s bang in selle
2011-07-16 10:00
Stellenbosch. – Die man wat ’n tafel op die Stellenbosse filosoof prof. Anton van Niekerk omgekeer en hom toe bygedam het, vrees dat hy in die selle aangerand gaan word.
Hy is ook op ’n eetstaking.
Abel Malan (48) van Nelspruit het Vrydag in die Stellenbosch-landdroshof verskyn op voorlopige aanklagte van intimidasie en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Dít volg op die voorval Donderdagoggend in Van Niekerk se kantoor in die Lettere-gebou van die Universiteit van Stellenbosch (US), waar hy direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek is.
Malan het ’n afspraak gemaak om met hom te praat oor “Wittes het báie skuld”, ’n artikel wat in Beeld en sy susterkoerante verskyn het.
Dié gesprek het in ’n aanranding ontaard en Malan het Van Niekerk glo ook gedreig.
Malan is ’n kandidaat van die Volksraad Verkiesingskommissie (VVK). Dit is ’n organisasie wat “staan vir die selfbeskikking van die Boere-Afrikanervolk,” aldus Paul Kruger, sy voorsitter, wat ook Malan se prokureur is.
Luidens ’n verklaring van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) neem hy dié voorval baie ernstig op. Advv. Willem Tarantal en Christiaan de Jongh, twee senior aanklaers, hanteer die saak.
Tarantal het gevra dat die hofverrigtinge uitgestel word sodat hulle Malan se besonderhede kan bevestig voor sy borgtogaansoek. Hy het gesê die minimum straf vir ’n eerste oortreder op die intimidasie-aanklag is tien jaar tronkstraf.
Kruger het die aansoek teengestaan. Hy meen as die staat wou, kon hulle al dié besonderhede vasgestel het. Hy vermoed daar kan “bymotiewe” vir Malan se voortgesette aanhouding wees. “Dit is algemene kennis dat die Grondwet van Suid-Afrika ’n besonder hoë premie plaas op die reg op persoonlike vryheid,” het hy gesê.
“Die Grondwet beskerm ondubbelsinnig die vryheid van die beskuldigde (Malan), wat ook ’n burger is van hierdie land,” het hy voortgegaan.
Tarantal het gesê dié reg is nie absoluut nie en die wet waarop hy sy aansoek grond, is een van die beperkings daarop.
Kruger het beweer Malan moes hom al “teen dreigende aanvalle verweer” terwyl hy in die Stellenbosch-polisieselle oornag het.
Verder gaan Malan niks eet totdat sy saak aangehoor word nie.
Hy moet ook chroniese medikasie ontvang, het Kruger gesê. Ná die hofverrigtinge kon Kruger egter nie sê waarvoor dié medikasie is nie.
Landdros Alfrieda Lewis het die staat se aansoek toegestaan en gesê sy gaan nie toelaat dat Malan die hof dreig met sy eetstaking nie.
“Elke mens het die reg op ’n spoedige verhoor, maar die staat het ook regte.
“Dié hof wil nie môre, oormôre met ’n lyk sit nie. Dít gaan u net uself op die hals haal.”
Sy het gelas dat Malan tot Woensdag, wanneer hy vir sy borgtogaansoek sal verskyn, in die Stellenbosch-gevangenis bly.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld