Registrasie-opkoms stel teleur
2011-02-05 23:05
Johannesburg - Die eerste registrasienaweek vir kiesers wat aan die 2011 plaaslike verkiesing wil deelneem het Saterdag afgeskop, maar amptenare in Kaapstad en Johannesburg het gesê die opkoms tot dusvêr was power, berig Eyewitness News.
Dit was besonder stil by die Daliwonga Sekonderê Skool in Soweto. Behalwe vir personeel wat registrasietafels beman het, was daar in die oggend nie 'n enkele mens in sig nie.
By Suid-Afrika se grootste stemlokaal in Joubert Park in sentraal-Johannesburg was die opkoms ewe swak.
Intussen het amptenare by Kaapstad se Bellville-stemlokaal by die DF Malan Hoërskool gesê min voornemende kiesers het opgedaag.
Net twee nuwe kiesers het Saterdagoggend by dié stemlokaal geregistreer, maar amptenare was vol vertroue dat meer mense Sondag sou opdaag.
Volgens 'n DA-raadslid, Leonore van Der Walt, was daar hierdie jaar minder jongmense wat nuut geregistreer het.
Die departement van binnelandse sake het vroeër aangekondig dat sy kantoorure hierdie naweek verleng sou word, en het op Suid-Afrikaners sonder identiteitsdokumente 'n beroep gedoen om aansoek te doen vir tydelike dokumente.
- Lees hier meer.