Regeringsagentskap ‘is tegnies bankrot’
2010-07-21 08:44
Die Burger
Kaapstad - Die regeringsagentskap wat staatspensioene en maatskaplike toelaes administreer – Sassa – is “tegnies bankrot”.
Só het Piet Pretorius, DA-LP en ’n lid van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), Dinsdag gesê ná ’n voorlegging van amptenare van die nasionale tesourie. In die voorlegging het dit aan die lig gekom dat Sassa R1,2 miljard oorbestee het en dat die liggaam geldelik in die knyp is.
“Sassa is eintlik tegnies bankrot. Hoe kan julle toelaat dat ’n staatsentiteit so ’n reuse-begrotingstekort het?” wou Pretorius weet.
Die rekenmeester-generaal, Freeman Nomvula, wat Dinsdag se tesourie-afvaardiging gelei het, het egter teruggekrabbel en gesê omdat Sassa ’n staatsentiteit is, is dit nie moontlik dat die agentskap “tegnies bankrot” kan wees nie. “Dit word deur die regering gefinansier,” het Nomvula gesê.
Brenton van Vrede, direkteur van maatskaplike ontwikkeling by die nasionale tesourie, het verduidelik dat Sassa se bedryfskoste R5,6 miljard beloop. Altesaam R2,5 miljard van die bedryfsuitgawes word aan private maatskappye, wat die maatskaplike uitbetalings namens Sassa behartig, betaal. Sassa betaal egter R1 miljard per jaar te veel vir dié funksie omdat kontrakteurs dikwels oordrewe pryse vra.
Narend Singh van die IVP het in vraetyd gesê dringende ingryping is by Sassa nodig. “Die miljarde rande wat aan uitkontraktering betaal word, beland in die sakke van administrateurs en dit kan eerder na begunstigdes gaan.”
Themba Godi, Skoor-voorsitter, het hom gelyk gegee en tesourie voor stok gekry omdat hy nie vroeër op dié soort verkwisting ag slaan nie.
“Julle sê in jul voorlegging Sassa behoort R1miljard minder te betaal aan kontrakteurs. Behoort daar nie dringendheid te wees om hierdie soort skuiwergate toe te stop nie?”
Godi het voorts gesê daar moet oorweeg word om rekenpligtige amptenare strafregtelik te vervolg vir wanbesteding en ongeoorloofde uitgawes.
“’n Verlies van R1miljard is growwe nalatigheid.”
Die Burger het onlangs berig dat amptenare by Sassa byna R70miljoen se belastingbetalersgeld wanbestee het. Dit sluit in selfoonkontrakte van R2miljoen en R450000 se potplante vir die verfraaiing van Sassa-kantore.
Die tesourie het egter daarop gewys dat ’n interministeriële komitee aangestel is om kostebesnoeiings in werking te stel. Een moontlikheid wat ondersoek word, is om Sassa se personeelgetalle te verminder.
- Die Burger