Regering wil stakings tydens WB só stuit
2010-04-23 10:28
Philda Essop, Die Burger
Kaapstad - Die regering oorweeg ’n sosiale ooreenkoms met vakbonde om te verseker dat geen stakings tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi plaasvind nie.
Geen spesifieke beroep is egter op vakbonde gedoen om nie tydens die toernooi te staak nie.
“Die moontlikheid van ’n sosiale pakket tussen die regering en enige vakbond in die toekoms kan nie uitgesluit word nie,” het Themba Maseko, regeringswoordvoerder, Donderdag gesê.
Hy het joernaliste by die parlement oor Woensdag se kabinetsvergadering toegespreek.
Maseko het gesê die regering is gedurig in gesprek met vakbonde en burgerregte-organisasies in ’n poging om Suid-Afrikaners op dié geleentheid te laat fokus.
“Die visie om die toernooi aan te bied moet ons aanspoor om dit as die kans van ’n leeftyd te sien om Suid-Afrika en Afrika te bemark.
“Ons is natuurlik bekommerd oor optrede wat kan afbreuk doen aan wat ons as land kan bied. Ons sal gedurig met alle organisasies in die samelewing hieroor praat.”
Hy het ook die geweld wat met plaaslike betogings en stakings gepaardgegaan het, betreur en gesê die regering neem sterk standpunt in daarteen.
“Dit is vir ons ook heeltemal onaanvaarbaar dat wanneer volwassenes aan betogings deelneem, hulle ’n baie swak voorbeeld stel deur ons stede met rommel te bestrooi en eiendom te beskadig.”
Maseko het gesê al gee die Grondwet en Handves van Menseregte Suid-Afrikaners die reg om vreedsaam te betoog, is dit onaanvaarbaar om op ’n “uiters gewelddadige” manier op te tree. Dit neem iets weg van die demokrasie en laat jong mense dink dit is die manier om probleme op te los.
Maseko het vertel eerw. Makhenkesi Stofile, minister van sport en ontspanning, het op die kabinetsvergadering gesê Suid-Afrika is slaggereed vir die toernooi.
Die departement van koöperatiewe regering en tradisionele sake het ook die 2010-rampbestuurplan in samewerking met die nasionale rampbestuursentrum ontwikkel en gefinaliseer, het hy gesê.
“Koorsagtigheid om die finale fase van kaartjieverkope oor die toonbank was die duidelikste teken nog dat Suid-Afrikaners reg is vir en opgewonde is oor die toernooi.”