Regering verwelkom e-tol-beslissing
2012-12-13 15:45
Johannesburg – Die regering het die beslissing oor die implementering van die e-tolstelsel verwelkom, het Thabo Masebe, 'n woordvoerder, gesê.
Die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (Outa) het onlangs die hof gevra om 'n besluit van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) om sekere snelweë in Gauteng as tolpaaie te verklaar, te hersien en ongeldig te verklaar.
Regter Louis Vorster het Donderdag dié aansoek van die hand gewys.
Outa het Sanral daarvan beskuldig dat hy die publiek opsetlik in die duister hou, en oneerlik is oor die implementering van die e-tolstelsel in die provinsie. Outa is ook beveel om alle regskostes te betaal.
Thabo Masebe, woordvoerder van adj.pres. Kgalema Motlanthe, het in 'n verklaring gesê die uitspraak regverdig die regering se siening dat hy die korrekte proses gevolg en al die vereistes nagekom het deur in 2007 dele van Gautengse hoofweë as tolpaaie te verklaar.
Intussen het Sanral ook Donderdag die beslissing verwelkom en gesê die uitspraak is in ooreenstemming met die konstitusionele hof se beslissing in September.
– Volg Nuus24 op Twitter